Armoria ecclesiastica

BISDOM VALSBAAI, Anglikaanse Kerk van Suider-Afrika.

Bisdom 2005 geskep, ’n verdeling van die Bisdom Kaapstad

Geen aangewese katedraal nie.

Biskop op Somerset-Wes gebaseer.

 

Bisdom Valsbaai

Die wapen mag so geblasoeneer word:

 

Hoekig gesny van blou en goud; in die regter-skildhoof ’n koringgerf, in die linker-skildhoof ’n tros druiwe en in die skildvoet ’n anker, alles van die een in die ander.

 

Die wapen is deur die afgetrede Staatsheraldikus Fred Brownell opgetrek, en bevat simbole wat die marine- en landbou-geaardheid van die bewoners van die streek.

Die simbool wat in die streek die langste van beduidenis is, is die anker, wat aanvanklik saam met die vroulike figuur van Hoop gebruik is in die 17de-eeuse seël van die Nederlandse kerk in Kaapstad (tans die Groote Kerk) en wat in 1804 deur kommissaris-generaal J A Uitenhage de Mist, hoof-verteenwoordiger in die kolonie van die Bataafse Republiek, as simbool vir die kolonie aangewend is. Dit was die alleen-skildhouer van die wapens wat hy aan die vyf drosdye en aan Kaapstad self verleen het.

Dit is in die wapen van die Bisdom Kaapstad aangewend as simbool van die kolonie, en is sedertdien deur verskeie Anglikaanse bisdomme in Suider-Afrika ook gebruik. Terwyl die anker in De Mist se ses verlenings swart was, en in die wapen van die Bisdom Kaapstad daardie kleur behou, verskyn dit hier in blou.

In aantekeninge van die hand van biskop Merwyn Castle word dit so verduidelik:[1]

“’n Anker is nie slegs ’n sinspeling op die moederbisdom nie, maar aangesien dit as simbool van hoop reeds so lank met die Kaap geassosieer word, is dit vir my ook ’n essensiële komponent (kyk Hebreërs 6:19).”

Hy skryf verder:

“Die [hoekige] skeidslyn kan gesien word as ’n sinspeling op die berge wat die Valsbaai-deel van die bisdom van die Overberg skei.”

Die koringgerf en die tros druiwe simboliseer die landbou van die streek. Biskop Merwyn verduidelik dit so:

“Die koring en die druiwe, wat vrugte is van die bisdom, is ’n duidelike verwysing na die Nagmaal. In die Christelike konteks sou niks meer paslik kon wees nie.”

Die goud en blou kleure staan onderskeidelik vir die land en die see – dieselfde twee kleure verskyn, met dieselfde simboliek, in die wapen van die Bisdom Namibia.

Dit word ook verduidelik:

“Hierdie eenvoudige twee-kleur ontwerp verklein goed en sou ook in enkel-kleur drukwerk goed reproduseer. Blou en goud, vanuit die Kaapstadse bisdomswapen, is in ons multi-kulturele samelewing neutrale kleure, en kan gesien word as verwysings na die see/hemel en die sand/land.”

Dit kan ten slotte genoem word dat die Provinsie Wes-Kaap ook in sy wapen ’n anker en ’n druiwetros insluit.

 

Oor die bisdom:

Alhoewel dit reeds jare lank erken is dat die Bisdom Kaapstad eenvoudig te groot was, het dit ’n probleem gehad daarin dat sy Anglikaanse bevolking in die stedelike gebiede gekonsentreer is, en in die platteland wyd verspreid.

Die daarstelling van die Bisdom Valsbaai by geleentheid van die eerste Sondag in Advent, 2005, was basies ’n kompromis, want dit het die suidelikste dele van die stad met die oostelike platteland ingelyf het.

Sy naam is ontleen aan die reuse baai ten suide van Somerset-Wes, wat die suidelike deel van die Kaapse Skiereiland afskei van die berge wat vanaf Gordonsbaai suidwaarts strek tot by Kaap Hangklip.

In die vroeë jare van die Portugese handel met die Ooste, nŕ die oopmaak van die handelsroete in 1524 deur Vasco da Gama, het skeepskapteins en waghouers meer as eenmaal vir Hangklip misken as die Kaap die Goeie Hoop (die suidelikste punt van die skiereiland) en, nadat hulle dié kaap verby is, noordwaarts gedraai. By een geleentheid is ’n ganse vloot op die baai se noordelike kus gestrand, miskien naby die Strand (Somerset-West se buurdorp langs die see).

Weens hierdie wanopvatting is die oudste Europese naam vir Hangklip Cabo Falso (Valse Kaap – dit wil sę, nie die Kaap die Goeie Hoop nie); die baai is dus ook Bahia Falso genoem. Terwyl die Nederlanders die kaap ’n nuwe naam gegee het wat sy berghange reflekteer, het die baai sy naam behou.

Die webwerf van die bisdom beskryf die agtergrond van die daarstelling van hierdie bisdom:

 

“Die bisdom strek vanaf die Atlantiese kus van die suidelike Kaapse Skiereiland in die weste tot in die Overberg-streek van Wes-Kaap in die ooste, en van Kaap Agulhas – die suidelikste punt van Afrika – in die suide tot die randjie van die Koue Bokkeveld in die noorde.

“Dit sluit in gemeenskappe wat wissel van die dig bevolkte voorstede Khayelitsha en Mitchellsplein op die Kaapse Vlakte tot die kusdorpe van Valsbaai en die Suid-Kaapse kus. Sy mense werk in allerhande ondernemings, van die fabrieke van Kaapstad tot die koringplase van die Overberg en die visbedryf langs die kus. Parogieë hou dienste in drie tale – Afrikaans, Engels en isiXhosa.

“Die Bisdom Valsbaai is uitgekerf van die oostelike deel van die ou Bisdom Kaapstad, die moderbisdom van die Anglikaanse Kerk in Suider-Afrika. Die Bisdom Kaapstad, in 1847 gestig, het aanvanklik aansienlike grondgebied in die suid-oostelike hoekvan Afrika gedek. In die 20ste eeu is sy grense afgebaken waar dit aan die oostekant die bisdomme George aan die ooste, Kimberley en Kuruman in die noord-weste en Namibia [aanvanklik Damaraland genoem] aan die noordekant.

“So vroeg reeds as die 1960s het dit egter duidelik geword dat die Bisdom Kaapstad, wat gestrek het van die Namibiese grens in die noorde en halfpad na die dorp George aan die oostekant, onbehoudbaar was. Amper 40 jaar en sewe kommissies van ondersoek later het die ou bisdom besluit om te ‘vermenigvuldig’ en drie te word.

“Die inhuldiging van die Bisdom Valsbaai was die eerste stap in hierdie proses. Die bisdom beslaan 50 parogieë in ses aartsdiakenskappe, met die bisdom se hoof­kwartier op die dorp Somerset-Wes gesentreer. Vyftig stipendiate (betaalde) geestelikes en 35 nie-stipendiate (self-onderhoudende) geestelikes dien in die bisdom, 10 van hulle vroue.”

 

Biskop: Die stigter-biskop van die bisdom is Merwyn Castle, wat toe hierdie artikel geskryf is, steeds die amp behou het.

 



[1] My vertaling.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Bron van beeld: Deur biskop Merwyn voorsien.


Terug na indeks van bisdomme

Terug na indeks van bisdomme (wapens soos oorspronklik gevoer)

Terug na Armoria ecclesiastica-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle