Armoria ecclesiastica

BISDOM KAAPSTAD, Anglikaanse Kerk van Suider-Afrika.[1]

Bisdom 1847 daargestel, afgestig van die Bisdom Calcutta.

Katedraal: Sint Joris die Martelaar, Kaapstad.

Aartsbiskop se woning: Bishopscourt, Wynberg.

Bisdom Kaapstad

Wapen deur die College of Arms verleen volgens oktrooibriewe gedateer 25 Januarie 1952 en by die Buro vir Heraldiek geregistreer met sertifikaat No 458, gedateer 6 Januarie 1972. Die blasoen lui:

 

Gevierendeel van blou en swart: I en IV, ’n klimmende leeu van silwer; II en III: drie oop krone een bo die ander geplaas van goud; op ’n kruis oor alles heen ook van goud, ’n swart anker in die middelpunt en in die erepunt ’n afgerukte hertkop van rooi, tussen die horings ’n breë pylpunt van blou.

 

Hierdie wapen verskil in slegs een belangrike aspek van die wapen wat oorspronklik onder die eerste biskop, Robert Gray, gevoer is. Om daardie wapen te sien, kyk hier.

Die inskrywing in Brownell se boek[2] lui:

“Dit is ’n vereenvoudigde weergawe van die wapen wat vanaf 1847 tot in 1951 deur die bisdom gevoer is. Die enigste beduidende verskil is die vervanging van die binneskild van Burdett-Coutts, wat in die vroeëre weergawe op erepunt verskyn het, met die hertkopen die pylpunt, die hooffigure in die Coutts-wapen.

“In die registers van die College of Arms word die hertkop in die wapen van Angela Burdett-Coutts korrek geblasoeneer as afgeruk (erased), maar foutiewelik geïllustreer as aansiende (caboshed). Die gebruik van die afgerukte hertkop as vereenvoudigde wapenfiguur in die bisdomlike wapen verbeter dus ’n vroeëre kunstenaarsfout.”

 

Oor die bisdom:

Met diedaarstelling in 1911 van die bisdomme van George en van Kimberley en Kuruman het die Bisdom Kaapstad ’n geografiese formaat aangeneem wat dit tot aan die einde van die 20ste eeu sou behou: dit het die ganse Weskus van Kaapprovinsie ingesluit en deel van die suidelike kus tot sover as die mond van die Breërivier.

Een opletbare uitsondering is gemaak om ’n parogie 2 816 km wes-suidwes van Kaapstad in te sluit: die eiland Tristan da Cunha. Alhoewel dit deel was van die Kolonie van Sint Helena, was daar geen gereelde kommunikasie met Jamestown nie, want skepe het bitter selde tussen die twee eilande gevaar. Daarom is die eiland nie slegs vanaf Kaapstad van voorraad voorsien nie, maar die Bisdom Kaapstad het ook die rektor van die eilandkerkie voorsien.

Hierdie toedrag van sake het eers in 1990 verander, toe die MS St Helena begin het met gereelde jaarlikse draaie by Tristan. Sedertdien het die eiland weer onder die gesag van die biskop van St Helena geval.

Slegs in 2005 is die bisdomsgebied van Kaapstad aansienlik verminder met die skepping van die Bisdom Valsbaai, wat in 2008 gevolg is deur die Bisdom Saldanha.

Die bisdom onderhou sy eie webwerf hier.

 

Aartsbiskoppe: Toe die huidige wapen in 1952 in gebruik geneem is, was die aartsbiskop Geoffrey Clayton (1948 ingehuldig). Sy opvolgers was Joost de Blank (1957), Robert Selby Taylor (1964), Bill Burnett (1974), Philip Russell (1981), Desmond Tutu (1986 en huidiglik aartsbiskop-emeritus), Njongonkulu Ndungane (1996) en Thabo Makgabo (2008).

 

Tale: Die Anglikaanse gemeenskap van die gesagsgebied van die Bisdom Kaapstad praat hoofsaaklik Afrikaans, Engels en Xhosa. Die bisdom gebruik aldrie in aanbidding en administrasie.



[1] Die kerkprovinsie waarvan die aartsbiskop van Kaapstad aan die hoof is, is gedurende die meeste van die 20ste eeu bekend as die Kerk van die Provinsie van Suid-Afrika (Church of the Province of South Africa).

In 1955 het die bisdomme Mashonaland en Matabeleland, wat deel was van die KPSA, die kern geword van die Kerk van die Provinsie van Sentraal-Afrika (Church of the Province of Central Africa), wat vanaf Botswana tot in Zambia strek, en wat Malawi en Zimbabwe (Suid-Rhodesia) insluit.

In 1982 het die KPSA sy naam verander na die Kerk van die Provinsie van Suider-Afrika (Church of the Province of Southern Africa), en in 2006 het dit formeel die Anglikaanse Kerk van Suider-Afrika (Anglican Church of Southern Africa) geword.

[2] Heraldry of the Church of the Province of Southern Africa, 1847-2000, deur F G Brownell, gepubliseer deur Heraldsholme CC, Pretoria 2002.

Die vertaling is myne.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Bron van beeld: Lyntekening in Brownell se boek, deur die werfmeeester met behulp van MS Picture It! ingekleur.


Terug na indeks van bisdomme

Terug na indeks van bisdomme (wapens soos oorspronklik gevoer)

Terug na Armoria ecclesiastica-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle