Waarom 'n Familiewapen?

Hierdie familiewapen behoort aan ons gesin, en nie aan enigiemand wat dieselfde van het nie. Aangesien dit iets is wat aan almal in ons gesin gesamentlik behoort, is dit iets wat saamwerk daaraan om die gesin saam te bind. Dis iets waar die gesin, en DV later die familie wat uit hierdie gesin voortkom, rondom kan saamtrek soos daar staan in Numeri 2 : 1 - "Die kinders van Israel moet laer opslaan elkeen by sy vaandel by die veldtekens van hulle families; ..."

Helmtekens

Hierdie gesin het ontstaan uit die huwelik tussen Bouwe van der Eems en Debbie Brand. Die vlamme op die helmteken dui op die Brand van. Die rooi voorwerp is die Friese Lelie wat dui op Friesland, die geboorteplek van Bouwe.

Die Skild

Die skild bestaan uit 'n pels bo en 'n kleur onder. Die vier pyle op die pels dui op die 4 seuns wat uit die huwelik gebore is, soos dit uitgebeeld word in Psalm 127. "Kyk, seuns is 'n erfdeel van die Here; die moederskoot is 'n beloning. Soos pyle in die hand van 'n held, so is die seuns van die jeug. Gelukkig is die man wat sy pylkoker daarmee gevul het! Hulle sal nie beskaamd staan as hulle met die vyande in die poort spreek nie."

Op die kleur is 'n ring, wat die een dogter uitbeeld wat uit die huwelik gebore is. Die ring dui ook op die familiewapen van Jan van Riebeeck. Jan van Riebeeck is die stigter van die Kaapprovinsie, waar Debbie gebore en opgegroei het, en Bouwe opgegroei het. Jan van Riebeeck is ook die planter van die Gereformeerde geloof in Suid-Afrika, wat ook die geloof van hierdie gesin is. Die koms van Jan van Riebeeck aan die Kaap was die begin van 'n aantal gebeurtenisse wat gelei het tot die ontstaan van 'n nuwe volk, naamlik die Afrikaner, waaraan hierdie gesin ook behoort.

Die golf tussen die pels en die kleur, sowel as die blou kleur dui op die Eems rivier, waarna die 'van der Eems' van vernoem is.

GAAN TERUG