Swartland and West Coast Herald, the largest independent weekly in the Swartland and West Coast region.

Meer as 20 000
lesers elke week ...

WOESTE KROEGGEVEG LAAT SPOOR VAN VERWOESTING IN HOOFSTRAAT

PORTERVILLE – Plaaslike sakelui hier is op die oorlogspad ná besope rugbyspelers en hulle ondersteu-ners glo laat Saterdagnag dié an-dersins rustige dorpie se hoofstraat ingevaar en derduisende rande se skade aangerig het, berig Gerard Grobler. Die oproer het skynbaar by die Portside-sportkroeg begin. Die Herald kon nie vandeesweek daarin slaag om die eienaar van die kroeg in die hande te kry nie, maar na wat verneem word, het spelers en ondersteuners van die Porterville- en Langebaan-rugbyklubs Saterdagaand by die kroeg gekuier. Die twee spanne het vroeër die middag kragte gemeet op Porterville se tuisveld en gelykop gespeel. By die kroeg het sake glo skeef geloop en ‘n bakleiery het ontstaan. Volgens die bestuurder van die bus wat die Langebaan-spelers en -ondersteu-ners na Porterville gebring het, mnr. Joseph Komanisi, het hy buite die kroeg gewag terwyl sy sowat 50 passasiers daar gekuier het. ‘n Ba-kleiery het blykbaar ontstaan waar-tydens ‘n Porterviller glo met ‘n mes gesteek is en twee motors se ruite uitgeslaan is. Komanisi sê hy het op hierdie tydstip besluit om stadig weg te beweeg in die rigting van Porterville se hoofstraat. Hy vertel ‘n groep mense in ‘n blou Ford-bakkie met ‘n CFR-registrasie-nommer het die bus agternagesit en glo van die bus se ruite met ‘n piksteel uitgeslaan. Komanisi sê hy het toe maar noodgedwonge so vinnig moontlik na die polisiestasie gery om hulp te probeer kry. Isebane-busdiens se depotbestuurder op Vredenburg, mnr. Joseph Carolus, het intussen bevestig dat daar meer as R3 000 se skade aan die bus aangerig is. Hy sê daar is ‘n klagte gelê, maar volgens hom was die polisie op Porterville nie baie behulpsaam nie en het hulle skynbaar aangedui dat nie moontlik gaan wees om die skuldiges krimineel te vervolg nie. Die strydende groepe het skyn-baar agter die bus aanbeweeg en die onderste gedeelte van die dorp se hoofstraat in ‘n byna slagveld omskep. Vertoonvensters by minstens drie winkels en ‘n motorhawe het in die proses in die slag gebly terwyl die groepe die strate ingevaar het. Vullisdromme is omgegooi en die vullis in die hoof- en aangrensende strate rondgestrooi. Inwoners waarmee die Herald gepraat het, sê dit het behoorlik soos ‘n slagveld gelyk. ‘n Porterviller wat in die omgewing woon vertel sy het nog nooit so iets beleef nie. Sy sê sy het net na middernag wakker geskrik van die lawaai. “Ek het nog nooit so iets gehoor nie.” Die oproermakers het glo leë dromme van die bouperseel by Oranje Slaghuis omgeskop en in die hoofstraat afgerol. “Ek was te bang om op te staan en te gaan kyk,” vertel sy. ‘n Winkelier wat ‘n paar strate van die hoofstraat af woon, me. Rita Brooks van Seven Days kafee, sê dit was so ‘n lawaai dat hulle kom kyk het. “Dit was iets verskriklik soos hulle mekaar gevloek en geskel het en dromme in die straat gegooi het. Porterville se polisie was op die toneel maar die twee manne in die patrol-liewa kon nie veel uitrig teen die groepe nie en het versterkings laat kom. Intussen is die sakemanne wat skade gelei het, die hoenders in. Onder die sakepersele wat deurge-loop het, is PEP Stores, Wintershoek Drankwinkel, die tweedehandse meubelwinkel van mnr. Hennis Bas-son en Laubschers Garage. Mnr Basson het Dinsdag aan die Herald gesê hy was reeds in verbinding met die Bolandse Rugbyunie. “Hulle probeer die ding toesmeer en sê dit het niks met hulle te doen nie. Ek het egter die name en adresse van die twee klubs se voorsitters gekry en as hulle nie wil opdok nie sal ek ‘n siviele eis instel.” Mnr. Basson se skade alleen beloop bykans R6 000. Van die ander sakemanne het volgens hom ook aangedui dat hulle wil hof toe oor die moles. ‘n Woordvoerder van Boland-rugbyunie het by navraag gesê wat in “die middernagtelike ure gebeur het niks met rugby te doen nie. Boland Rugby kan nie pa staan daarvoor nie”. Hy het gesê hy kan nie sien hoekom die rugbyunie bygesleep moet word nie. “As daar wel bewys kan word dat die onderskeie klubs skuld dra, sal hulle die verantwoordelikheid moet neem en betaal.” Die voorsitter van Porterville-rugbyklub, mnr. Jeroam Arendse, het op sy beurt gesê sodra mense van die rugbyklub se hekke wegry kan hy nie meer verantwoor-delikheid neem nie. Hy vertel dat die groep van Lange-baan sowat 20:00 daar weg is. “ Wat hulle in die dorp doen en waar hulle kuier het ek daarna mee vrede. Ek het eers Maandag van die petalje te hore gekom en probeer nog self uitpluis wat nou eintlik gebeur het. As daar van die Porterville-spelers betrokke was, moet hulle aan die pen ry,” het hy gesê. Die afrigter van Langebaan, mnr. Jeff Manuel, het Woensdag gesê die hele petalje het begin toe die groep van Langebaan begin reg maak het om huiswaarts te keer. Volgens hom het die oproer begin na ‘n speler van Langebaan en een van Porterville in ‘n onderonsie betrokke geraak het oor ‘n meisie. Hy sê die speler van Porterville het eerste geslaan en is daarna bygekom deur ‘n Langebaan speler. Hierna vertel hy was dit choas. Portervillers het glo te voorskyn gekom met stokke en wielspanners en daar is oor en weer klipgegooi. Hy sê sy beste pogings om die spul uitmekaar te hou, het niks opgelewer nie. Hy sê ‘n man het later langs die bus aangehardloop en die regterkantse vensters met ‘n piksteek uitgeslaan.Volgens Manuel het hulle die polisie gevra om hulle vangwaens tussen die twee groepe te trek om die geveg te beëindig, maar hulle wou nie aangesien daar net vier polisiemanne op diens was. Die polisie het intussen verster-kings van omliggende dorpe in-geroep. “ Albei groepe het ewe veel skuld, maar ‘n Porterville speler het eerste geslaan,” het hy gesê.