Strandloper
http://www.oocities.org/strandloper2003

Die harige mens

“skaamhare”/lieshare

DIT was die afwesigheid van harige pelse op die lywe van Homo sapiens wat vir Desmond Morris oorweeg het om na die menseras as die Naakte Aap te verwys – en om sy boek oor hierdie onderwerp The Naked Ape te noem.

Maar terwyl die mens haarloos is by vergelyking met pelserige en harige diere – die meerderheid van soogdiere – is daar ’n aansienlike harigheid aan die menseliggaam.

En dis fascinerend om te sien hoeveel aandag daaraan geskenk word, op die een of ander manier, in verskeie samelewings, gemeenskappe en families, en deur indiwidue.

In die begin het kinders slegs hare op die kopvel en wenkbroue, terwyl die res van die liggaam prakties naak is (die hare wat daar is, is oor die algemeen so fyn dat dit onsigbaar is). Maar met puberteit kom die groei van hare.

Dit is ’n teken van die oorgang van die kinderjare tot ten minste gedeeltelike volwassenheid as ’n mens hare op die lies, onder die arms, en, in seuns, op die gesig groei.

Morris spekuleer dat die Westelike obsessie onder vroue om onderarmhare te verwyder gemotiveer word deur ’n begeerte om weer kind te wees – ’n heel onlogiese begeerte, aangesien hierdie soeke om haarloosheid deur ’n drang na seksuele aantreklikheid aangedryf word.

Daar’s iets daar waarin die antwoord op vyf plus vyf nie tien is nie.

Die obsessie met die verwydering van manlike gesigshare word dikwels met soortgelyk onlogiese argumente gemotiveer, alhoewel daar ook lank-gevestigde praktiese redes hiervoor is.

Die Antieke Grieke en Romeine het daarop aangedring dat hul soldate baardloos moet wees omdat dit vroeër ’n taktiek was in hand-aan-hand gevegte om aan die baard vas te gryp.

Die herstel nà gesigswonde kan ook gekompliseer word deur die aanwesigheid van hare – dis waarom dit van boksers, ook, vereis word om baardloos te wees.

As baardloosheid as die norm gevestig is, skuif die aandag op die donker hare wat sommige vroue op die bolip het, en word die verwydering daarvan ’n obsessie.

Om die een of ander rede word dit as manlik bedink, maar die harige bolip in vroue is niks meer as ’n newe-effek van die kragtige voorkoms van hare ook op die lies[1] en onderarm – dieselfde hormoon is daarvoor verantwoordelik.

Daar word dikwels gepraat, veral van ou Oos-Europese vroue, dat hulle “snorre” het, maar terwyl hierdie verskynsel soms erg voorkom, bly dit ’n uiters vroulike harigheid, wat nie vergelyk kan word met die gesigshare van die spreekwoordelike (maar heel seldsame) “gebaarde dame”.

Iets wat ’n mens gou oplet deur blootstelling aan naturisme – òf onder naakte mense òf deur die bekyk van foto’s – is dat ongeag van hoe harig die vroulike lies of onderarm is (en of dit deur harige bolip vergesel word) word dit selde of ooit saam met sigbare hare op die bors of maag aangetref.

Vroue met groot bosse hare op die lies het gewoonlik min (indien enige) hare op die borste of rondom die nawel. Soms sal daar vanaf die nawel tot by die lies ’n fyn donker strepie wees.

Selfs in vroue wie se familie ’n neiging toon om wel bietjie hare op die bors te hê, sal dit gevind word dat die mans in daardie familie heelwat hewiger borshare het.

En hare op die vroulike bors vergelyk skaars met die tipiese harigheid van die manlike bors en maag, wat tipies duideliker word soos wat die man die ouderdom van 30 benader.

Sommige mans het sulke woelige borshare dat dit gesê word dat hulle ’n tapyt voor hulle dra, maar die meeste het minder hare.

Dit is belangrik om te onthou dat menswees met hare saamgaan – en heelwat meer op die lyf in volwassenheid as in die kinderjare.

En dit stop nie met die bolyf nie. Alle mans en die meeste vroue het ook hare op die voorarm en op die bene.

Ek het nog nie ’n vrou ontmoet wat so sku is oor die hare op haar voorarm dat sy dit skeer nie, maar die meeste vroue wat ek ken skeer hul bene en onderarms, of gebruik hulle die een of ander vorm van depilering.

’n Mens lees orals advertensies wat vir jou vertel hoe om van “lelike hare” ontslae te raak – dit is slegs die mode, met sy onrealistiese klem op sekere aspekte van die liggaam, wat enige hare lelik maak.

Tog skeer vroue hulle bene – wat die gevolg het dat die ligte donsies wat vroue natuurlik op die maermerrie en boude het, dikker en donkerder groei, meer soos dié op manlike bene. Onderarm skeer het ’n soortgelyke effek.

En as dit eers gegroei het, sal die hare al hoe meer dik groei, en so begin die obsessie met depilerende wassmere en roomvoorbereidings.

Baie vroue kies dan laser-behandeling – die uiterste wapen teen “lelike hare”.

En na laser-verwoesting sal die behandelde deel van die vel gewoonlik vir die res van die pasiënt se lewe heeltemal (en onnatuurlik) naak wees.

Maar dit maak an die gene geen verskil nie, en ’n vrou wat oor die algemeen hariger is as haar tydgenote (gedepileer aldan nie) sal gewoonlik geboorte gee aan hariger dogters – weereens iets wat eers sigbaar is as die dogters volwasse word.

Sommige vroue het ’n perskedons voorkoms op hulle gesigte: fyn tog sigbare wit haartjies, glad nie onooglik nie, wat ’n heelwat wyer gedeelte van die wange dek as wat baard op ’n man se gesig voorkom. Elvis Presley se weduwee Priscilla het sulke dons gehad, heel sigbaar maar tog nie onaantreklik nie, en het dit permanent laat verwyder. Myns insiens is dit glad nie ’n verbetering nie.

Dan word die hare-obsessie ook op die wenkbroue toegepas. Volwasse vroue se wenkbroue kom natuurlik voor in ’n verskeidenheid digtes, van lig tot donker, van apart oor elke oog na toe oor die neusrug.

Maar die mode noem dit ook lelik. Dus bring meisies, selfs in hulle vroeë tienerjare, pynlike ure met ’n haartangetjie deur, besig om ongewenste wenkbrouhare uit te trek . . . ook heeltemal onnodiglik, en dikwels met onvoorafgesiene lelike gevolge.

Dit kan ook met laser-behandeling permanent gemaak word (dikwels erg so).

Maar ek het tot die gevolgtrekking gekom dat die mens eenvoudig ’n harige wese is.

– Strandloper



[1] Die hare in die lies word gewoonweg “skaamhare” genoem. Dit is egter ’n misleidende term wat met die hele wanverstand om naaktheid en skaamte saamhang, en na my mening moet ’n mens liewer van lieshare praat.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Terug na Strandloper se hoofbladsy


Skryf vir my: Strandloper