Armoria civica
http://uk.oocities.com/muurkroon

THABAZIMBI
Provinsie: Limpopo (vroeër Transvaal).
Distrik: Thabazimbi.
Toevoegings: –.
Ingelyf: 2000, in Plaaslike Munisipaliteit Thabazimbi, deel van Distriksmunisipaliteit Waterberg.

Thabazimbi

Soos ’n mens na die kunswerk kyk lyk die wapen nie of dit geregistreer is nie, maar miskien is dit wel. Dit mag so geblasoeneer word:

Wapen: Kepergewys gesny van goud en swart, bo regs ’n Afrikanerbulkop en skouers van natuurlike kleur, bo links skuinsgekruiste myngereedskap van rooi, en in die skildbasis ’n alchemiese simbool vir yster, van goud.

Helmteken: ’n Klimmende halwe sebra in sy natuurlike kleure.

Leuse: Labora omnia florent.

Oor die wapen:
Die bul is van die Afrikaner-ras, rooibruin van kleur met prominente horings en ’n homprug.

Die Afrikanerbees is die uitkoms van kruisteling tussen die vee van die Khoikhoi[1]-volk– ’n beesras uit Afrika, van Sudaniese oorsprong – met vee van Europese herkoms, wat ’n groter bees uitgebring het, met behoud van die vermoë van Afrika-beeste om teen siektes weerstand te bied, maar met groter liggaamsbou.

Hierdie kruisteling in die vroeë jare van die Kaapse nedersetting het die gevolg gehad van ’n bees wat meer vleis voortgebring het (noodsaaklik vir die proviasionering van die vlote van die Vereenigde Oostindische Compagnie in Tafelbaai), en ook ’n stewiger bees vir die swaar taak van wa-trek.

Dit is hierdie ras wat beide trekkrag en voedselbron (vleis en melk) vir die Voortrekkers voorsien het toe hulle die binneland benoorde die Vaalrivier binnegekom het.

Die gereedskap is tipiese myngereedskap, en word as simbool van mynbou in wapens gevind uit verskeie dele van Europa.

Die simbool in die skildbasis is veronderstel om die alchemiese simbool vir yster te wees. Dit is egter gedraai: in plaas daarvan dat dit skuins lê, soos die simbool vir die manlike geslag (die ystersimbool en die manlike simbool is tradisioneel dieselfde) wys dit regop.

Die sebra is ’n bontkwagga of Burchell se sebra (Equus burchelli), tipies van die wild rondom Thabazimbi, en verwys ook spesifiek na die plaas Kwaggashoek, waarop die dorp uitgelê is.

Oor die dorp:
J H Williams het in 1919 ryk ysterertsneerslae in die berg te Vliegpoort, sowat 130 km noord van Rustenburg, gevind.

Die Unie-regering het in 1927 die ertsgebied verkry, en mynbou op die berg het 1931 begin – ’n gebeurtenis wat die stigting in 1934 van die Yster- en Staalkorporasie (Yskor) voorafgegaan het, en moontlik ook aangehelp het.

Die myn, en die dorp wat daarlangs ontstaan het, is Thabazimbi genoem – ’n vermenging van Sotho- en Nguni-elemente, wat die gemengde etniese agtergrond van die Bantu-sprekende volkere van die streek weerspieël (Tswana [Wes-Sotho] aan die suide, Noord-Sotho aan die noorde- en oostekant, en Ndebele in verskeie dele van die Provinsie Transvaal).

Die Sesotho-woord thaba[2] beteken “berg” – die woord het dieselfde vorm in aldrie Sotho-tale – terwyl “-zimbi” ’n effens veranderde vorm is van die isiNguni-woord vir “yster”; intsimbi in Xhosa, en insimbi in Zulu.[3]

’n Spoorlyn is in 1934 na Thabazimbi gebou, wat die myn deur Northam en Rustenburg met Pretoria verbind het.

Die myn het na berig word een van die grootste skagte in Afrika, en het ’n hystoestel wat 100 mense op ’n slag kan dra. Meer as drie ton plofstof word daagliks gebruik om die erts los te maak.

In 1970 het ertsproduksie op 1,75 megaton gestaan, en tussen 1934 en ’70 is meer as 40 Mt erts gemyn en op Yskor se Pretoria-aanleg in staal omskep.

Yskor het vir sy werknemers op die plaas Kwaggashoek akkommodasie voorsien, en 4 Mei 1953 is dit as dorpsgebied geproklameer. In die jare 70 was die administrasie in die hande van ’n gesondheidskomitee. Die dorpsgebied is in 1955 en weer in ’60 uitgebrei.



[1] Die Khoikhoi, wat voorheen Hottentotte genoem is, was mense van Boesman-herkoms wat sowat 2 000 jaar gelede vanaf ’n Sudaniese volk beeste verkry het, en met hierdie beeste suidwaarts getrek het vanuit die omgewing van die Zambezirivier om hulle langs die Gariep- of Oranjerivier en langs die kus van wat die Kaapkolonie sou word, te vestig.

Hulle is nie die volk van die Thabazimbi-distrik nie, inteendeel is hulle glad nie in die Transvaal-streek tuis nie.

[2] Die Nguni-woord vir berg is intaba – duidelik van dieselfde stamwoord.

[3] Dit is moontlik dat die spelling ’n fout was aan die part van ’n Duitssprekende persoon, want in daardie taal staan die letter Z vir die klank TS.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bronne: Illustrasie met vergunning van International Civic Arms. Geskiedkundige aantekeninge uit die Standard Encyclopædia of Southern Africa (Nasou).


    Terug na indeks van munisipaliteite tot 2000

    Terug na Armoria civica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle