Armoria patriæ
http://www.oocities.org/haigariep

Oranje Vrij Staat

Die boomdebat / beuelhorings / Keate-toekenning / Adam Kok / Moroka


Oranje Vrij Staat)

Wapen 23 Februarie 1857 in gebruik geneem, op die derdejaars-herdenkdag van die Oranje Vrij Staat. Die blasoen, soos deur F G Brownell aangehaal, lui (volgens my vertaling):

Wapen: Op ’n silwer skild, tussen drie beuels van blou, versier en gekoord van rooi, ’n voorstelling van seël van die Republiek Oranje Vrij Staat soos in 1856 aangeneem, d. w.s. op ’n koek van wit, bo ’n boom op ’n eiland, tussen aan die regterhand drie skape en, links, ’n natuurlike leeu wat die boom met sy regterpoot steun, onder ’n Voortrekkerwa op ’n eiland, alles in natuurlike kleure; op ’n lint wat horisontaal gedrapeer is, die leuse GEDULD EN MOED, bokant die boom die woord VRYHEID en onder die wa die woord IMMIGRATIE; agter die skild op twee skuinsgekruiste stawe met bal en speerpunt van goud, twee vlae van dieselfde Republiek aan beide kante gedrapeer, elk met sewe strepe sigbaar, afwisselend wit en oranje en ’n kanton van drie strepe, rooi, wit en blou.

Die vlag wat as deel van die wapen getoon word, het dieselfde dag in gebruik gekom.

Uit ’n heraldiese gesigspunt is hierdie devies eenvoudig ’n ramp. Dit bevat klein illustrasies wat skaars gesien kan word, dit kontrasteer silwer met wit, en dit bevat in drie plekke bewoording, wat teenstrydig is met die pikturale gees van wapenkunde. Die enigste manier om dit te verduidelik is om die verhaal te vertel van die twee aparte embleme wat gekombineer is om dit op te maak.

Wapenagtergrond:
Die republiek het 23 Februarie 1854 tot stand gekom sonder Groot Seël of vlag, en aangesien ’n seël nodig was om wette te verseël, moes iets gedoen word. 15 Mei ’54 het die Goewermentsekretaris, Jacobus Groenendaal, ’n Nederlander, aan sy vriend, professor U G Lauts, geskryf. Lauts is as konsul van die Oranje Vrij Staat in Nederland aangestel. Groenendaal het gevra of koning Willem III gewillig sou wees om aan die republiek ’n wapen en ’n vlag te verleen.

Hierdie brief is 15 Oktober opgevolg deur ’n persoonlike brief vanaf President Josias Hoffman aan die koning, waarin hy uitgewys het dat “die naam van Sy Majesteit se Huis” (die Huis van Oranje) in die naam van die nuwe staat geëer is “deur hierdie tak van die ou vaderland se boom”.

Dit kan aan digterlike vryheid toegeskryf word, aangesien die republiek nie direk na die koningshuis vernoem is nie – alhoewel daar wel ’n verbintenis was. Die rivier waarvan die republiek sy naam geneem het, is in 1779 Oranje genoem deur kaptein (later kolonel) Robert Jacob Gordon, ’n Nederlandse militêre offisier van Skotse herkoms. Hy het in daardie jaar ’n ontdekkingsreis langs die rivier onderneem, en het dit vernoem vir Willem V, Algemene Stadtholder van die Nederlandse Republiek, met wie hy persoonlike bevriend was.

In Februarie 1855 is Hoffman egter verplig om te bedank en, na ’n tussenpouse van ses maande, is Jacobus Nicolaas Boshof as President verkies.

Boshof, wat onbewus was van die versoek aan Nederland, het aan Goewerneur sir George Grey in Kaapstad geskryf met die versoek dat hy ’n Groot Seël ontwerp.

In Nederland het President Hoffman se versoek deur ’n burokratiese proses gegaan, en 12 Januarie 1856 het die Nederlandse koning se spesiale gesant, Cornelis Hiddingh (lid van ’n Kaapstadse familie), in Bloemfontein aangekom, tesame met ’n wapendiploma en die vlag wat daarop uitgebeeld is. Die wapen wat in die wapendiploma verleen is mag so geblasoeneer word:

 

Wapen: In silwer, ’n golwende dwarsbalk van oranje tussen drie beuels van blou, versier en gekoord van rooi; met agter die skild twee skuinsgekruiste lanse, met aan elk die vlag van die Republiek: wit met drie oranje strepe, en ’n kanton van drie strepe, rooi, wit en blou.

eerste voorstel vir wapen vir Oranje Vrij Staat

Die beuels is geneem van die wapen (in goud, ’n beuel van blou, versier en gekoord van rooi) van die Prinse van Orange, ’n stad en distrik in die suide van Frankryk. Die Prinsdom Orange het reeds ’n groot landgoed in die Lae Lande bymekaargemaak toe Willem die Swyger (Stadtholder vanaf 1559 tot sy moord in 1584) in 1545 die titel van ’n neef geërf het. Alhoewel Willem nie van die Middeleeuse grawe en prinse van Orange afgestam was nie, en nooit die Stad Orange besoek het nie (dit het in 1660 deel geword van die Franse kroonbesit), het die titel onder sy nageslag voortgeleef, en word dit vandag deur die erfopvolger tot die Nederlandse troon gevoer.

Die golwende dwarsbalk van oranje het die Oranjerivier gesimboliseer. Dit is miskien die mees oorspronklike bydrae tot die republiek se wapen en dit is ’n jammerte dat dit in die daaropvolgende kompromis laat vaar is. Die gees daarvan kon ten minste in die wapen van die Unie van Zuid Afrika gesien word, in die vorm van ’n golwende horisontale skeidslyn.

Die wapen wat werklik verleen is, het nie helmteken, leuse of skildhouers (behalwe die vlae) ingesluit nie, maar die woordspeling in een voorstel dien om genoem te word: ’n leuselint met die woorde “Oranje Staat Vrij”; en die heel eerste tekening (wat regs verskyn), wat ’n oranjeboom vir ’n helmteken gehad het en die leuse: “Tandem fit surculus arbor” (“Uiteindelik sal die lootjie ’n boom word”). Hieronder meer in dier voege. (Dit is in Nederland tradisioneel om van ’n oranjeboom te praat waar ’n lemoenboom die Huis van Oranje simboliseer.)

Omtrent dieselfde tyd as Hiddingh se aankoms in Bloemfontein, is die matryse van die seël wat uit Kaapstad aangevra is, ook afgelewer. Dus het die Volksraad, toe dit 28 Februarie 1856 vergader het, met ’n dilemma gesit. Om die een of die ander van die deviese te kies sou groot aanstoot afgee, aan die een hand aan die Nederlandse koning, en aan die ander hand aan die Britse Goewerneur en Hoë Kommissaris in Kaapstad. Op ’n vorstel deur F Nauhaus het die Raad besluit om die wapen en seël, sonder die dwarsbalk, te kombineer, en het die president versoek om aan koning Willem te srkyf met ’n verduideliking van die omstandighede.

Die boomdebat:
President Brand se sketsMaar watter boom is in die seël bedoel? Pama lê groot klem op die populêre simboliek van die oranjeboom in Nederland, as simbool van die Huis van Oranje. Maar selfs die voorkoms van ’n oranjeboom-helmteken in die eerste voorstel aan die Nederlandse koning maak die saak nie klaar nie, want die boom was in die seël, nie die wapen nie, en die seël is in Kaapstad gesny op instruksies uit Bloemfontein.
posseël van Oranje Vrij Staat

Die eerste duidelike tekening van ’n Vrystaatse boom was in ’n posseëlontwerp. In 1865 het President Johannes Brand ’n bestelling met Thomas de la Rue in Londen geplaas, en het vaagweg dit wat uitgebeeld moet word beskryf as “’n boom met drie horings”. Hy het ook ’n tekening meegestuur, waarin die boom (hier links aangetoon) duidelik geen vrugte gehad het nie. Met kunstenaarsvryheid het die graveerders ’n boom (regs) na vore gebring wat duidelik lemoene gedra het. Die posseëls wat hieruit gekom het – in verskeie waardes en kleure, maar almal in dieselfde ontwerp, met die beeld van ’n lemoenboom en drie beuels – was in gereëlde gebruik vanaf 1868 tot 1900 en, met oordrukke (soos hier aangetoon), tot 1904. Duidelik is hierdie tekening as model geneem vir die Oranje Vrystaat se kwartier in die wapen van die Unie van Zuid Afrika, wat in 1910 verleen is.

Maar watter boomsoort was dit veronderstel om te wees? Charles Barry het in 1930 in Die Volkstem daarop aangedring dat dit nie ’n lemoenboom was nie, maar ’n gewone boom “waaraan die simboliek van vryheid geheg is”.

Die volgende salvo is deur Vrystaatse argivaris A Kieser gevuur toe hy in 1934 in The Friend geskryf het, en geargumenteer het dat aangesien daar geen vrugte in die boom in die Groot Seël van 1856 is nie, en die boom die sambreeelvorm van die wilde olyf het, ’n boom wat op feitlik elke koppie in die Vrystaat gevind word, die simboliese boom van die Vrystaat dus die wilde olyf (Olea europæa africana) moet wees.

Twee jaar later het die Orange Free State Official Guide dit reguit gestel dat sir George Grey “die ontwerp van die Wilde Olyfboom opgedra het”.

Friede het geantwoord met ’n geleerde artikel wat ontken het dat enige spesifieke boomsoort bedoel is, en het op die bewoording “VRYHEID” klem gelê, en gesê dat die Vryheidsboom dit is wat bedoel was. Maar hy haal ook President F W Reitz en sê hy het ’n wilde olyfboom wat in 1893 buite die Raadzaal geplant is, as “ons oude symbolische boome” beskryf het. Hierdie verwysing het gekom uit ’n berig in De Express van 6 Junie ’93, maar dit tas mis, aangesien die beskrywing as die simboliese boom ’n redaksionele opmerking was, en nie die President se eie woorde nie.

In 1946 is die saak weer deur die destydse Vrystaatse argivaris na vore gebring. Hy het weer die wilde olyf-teorie voorgestaan, maar ten spyte van korrespondensie tussen die Provinsiale Administrasie en die Sekretaris vir Binnelandse Sake, is geen aksie geneem nie.

En in 1959 is weer op die saak ingegaan, hierdie maal deur dr Coenraad Beyers (hy het later Suid-Afrika se eerste Staatsheraldikus geword) en Cor Pama. Altwee het die olyfboom-teorie verwerp. Die teenargument is nietemin deur verskeie voorstaanders van die olyfboom voortgebring. Die Sekretaris tot die Eerste Minister, nadat hy die verskeie memoranda gelees het, het die Eerste Minister aangeraai dat “daar geen rede is waarom ’n vryheidsboom . . . nie ook vrugte sou dra nie”. Ter afsluiting het hy Pama aangehal: “Lank mag dit vrugte dra.”

Die uitdraai was dat die derde kwartier van die wapen van Suid-Afrika onveranderd gelaat is, met sy oranjeboom. Tog het die Oranje Vrystaat die wilde olyf as provinsiale boom aangeneem, dus kan dit gestel word dat beide partye elk een rondte gewen het.

Die republiek se naam:
Die amptelike taal van die republiek was Nederlands, dus het dit duidelik geen Engelse naam gevoer nie. Die gesproke taal was ’n vroeë vorm van Afrikaans.

Maar aangesien dit Britse kolonies vir bure gehad het, was dit onvermydbaar dat die naam vertaal sou word, en dit in dokumente van die tyd sal ’n mens wel verwysings vind na die “Orange Free State”.

Wat die naam in Nederlands betref, is dit op verskeie wyses geskryf: Oranje Vrij Staat, Oranje Vry Staat, Oranje Vrij-staat, of selfs Oranjevrijstaat. Die “Vry”-spelling is blykbaar (deels) die vrug van ’n vroeë Afrikaanse taalbeweging, alhoewel dit ook voorkom in die wapenvoorstelle wat in Nederland gemaak is. Maar die inskripsies op die republiek se latere monumente was gewoonlik “Oranje Vrij Staat”, en hierdie bewoording het ook op die land se posseëls verskyn.

Geografiese en geskiedkundige agtergrond:
Die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier is deur vroeë reisigers Transorangia genoem, maar dit was nooit ’n formele benaming nie. Die gebied het met Trekboere gewild geraak ná die Difaqane, en feitlik al die Voortrekkers wat in die middel-1830s die Kaapkolonie verlaat het, et vanaf die Oranjerivier tot by Thaba Nchu gereis voordat hulle verder getrek het. Op 6 Junie 1837 het die verskeie Voortrekkergroepe langs die Vetrivier ontmoet en ’n grondwet aanvaar en ’n Volksraad van 24 mans gekies, met Piet Retief as Goewerneur of President.

Retief en andere het toe Natal toe getrek, waar die kortstondige Republiek Natalia opgestel is. Nadat Brittanje die republiek in 1843 geannekseer het, het baie Trekkers weer die Drakensberge oorgesteek om in Transorangia of verder noord in die sogenaamde Trans-Vaal gebied hulle te vestig. Teen 1848 was die Boer-getalle in Transorangia so sterk dat Brittanje dit nodig geag het om die gebied as die Orange River Sovereignty te annekseer. Majoor H D Warden is as Britse Resident gestuur en het die plaas Bloemfontein vir sy setel gekoop. Só is die hoofstad van die Oranje Vrij Staat gestig.

Alhoewel Brittanje gesag oor die Trekkers selfs noord van die Vaalrivier wou uitoefen, is dit teen 1852 gevoel dat die behoud van soewereiniteit aldaar nie sou werk nie. Onder die Sandrivier-konvensie, wat langs die Sandrivier in die Orange River Sovereignty gehou is, het Brittanje op 17 Januarie ’52 onafhanklikheid aan die Trekkergroepe noord van die Vaal gegee. Dié groepe was op hierdie stadium maar losserig gefedereer. Dit het tot dieselfde gevolgtrekking gekom ten opsigte van die gebied suid van die Vaal, en op 23 Februarie 1854 het die Bloemfontein-konvensie onafhankliheid geskenk aan wat nou die Oranje Vrij Staat geword het.

Die grense van die Oranje Vrij Staat is losweg gedifinieer. ’n Verdrag met die Zuid Afrikaansche Republiek (soos die Transvaalse staat homself genoem het) het ’n grens langs die Kliprivier (een van etlikes met hierdie naam) van net onderkant Standerton tot aan die waterskeiding van die Drakensberge neergelê, terwyl die grens aan die republiek se westekant deur die diamantvelde-twis vasgestel is. Hierdie is in terme van die Keate-toekenning van 1871 besleg.

Die Griqualand West Land Court onder regter Andries Stockenström het egter later ’n regspraak gelewer wat laat blyk het dat die OVS ’n sterker eis op die diamantvelde gehad het as wat Luitenant-Goewerneur Keate gemeen het, en Groot-Brittanje het die republiek met £80 000 uitbetaal. Met hierdie kapitaal het die OVS homself omskep na ’n model-republiek.

Die republiek se gesag het in die begin nie verder suid as die Riet- en Kromellenboogrivier gestrek nie, aangesien dit die grond was van die Griekwa-kaptein Adam Kok. Maar Kok se besluit van 1860 om saam met sy mense te trek na ’n land oorkant die Drakensberge (die sogenaamde No Man’s Land, later Griekwaland-Oos) het die OVS beheer gegee oor grondgebied tot sover suid as die Oranjerivier tot by die sendingstasie te Bethulie. Kok se groep van 2 000 mense het in 1861 in 300 waens en met 3 000 beeste getrek.

Naby Bloemfontein was die distrik Moroka, met Thaba Nchu as setel, waar die Tswana-kaptein Moroka as ’n onafhanklike heerser behandel is. Toe sy opvolgers egter onder mekaar getwis het, het die OVS in 1884 oorgeneem.

Oos van Moroka en suid-weswaarts tot by Bethulie was etlike Sotho-groepe wat losweg onder die gesag van Moshoeshoe geval het. Wrywing tussen Boere en Basotho het egter gelei tot ’n reeks grense wat vir die Sotho ongunstig was en daarna ook inlywings van grondgebied (veral 1858 en 1869). Die OVS se uiteindelike oorname van Sotho-grond het hulle in beheer gesit van die linkeroewer van die Caledonrivier, maar Britse toetrede het dit stopgesit. Die Caledon (suid-weswaarts tot amper sover as Wepener, en dan oor na die Kornetspruit, ’n takrivier van die Oranje) het die permanente grens geword.

Suid-Afrikaanse Oorlog:
Die Oranje Vrij Staat het in 1890 ’n vriendskapsverdrag met die Zuid Afrikaansche Republiek aangegaan. Dit het ook wedersydse verdediging behels, en hierdie het effektief geword toe die ZAR in Oktober 1899 vir Brittanje ’n ultimatum gegee het om troep-versterkings te halt, of andersins dat ’n toestand van oorlog sou bestaan. Die ultimatum het die 11de verstryk, en die twee Boererepublieke het Kaapland en Natal binnegeval. Die Boeremagte was aanvanklik suksesvol, maar het hulle laat vaslê met belegte. Daardeur het hulle momentum verloor wat hulle heel moontlik tot by Durban, Oos-Londen miskien selfs Port Elizabeth sou gebring het. Na skokkende verliese aan die Britse kant, het die keiserlike magte die bohand gekry en die twee republieke binnegeval.

Die Oranje Vrij Staat is 6 Oktober 1900 deur Brittanje geannekseer as die Orange River Colony.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Heraldiese bronne: National and Provincial Symbols of South Africa, deur F G Brownell (Chris van Rensburg Publikasies) en Lions and Virgins deur C Pama (Human & Rousseau). Illustrasie van President Brand se tekening uit ’n veiling-advertensie van Stephan Welz/Sotheby’s.

  • Skanderings met vergunning van East Cape Weekend.


    Terug na kolonies- en republieke-indeks

    Terug na Armoria patriæ-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle