Armoria patriæ
http://www.oocities.org/haigariep

iRiphabliki wase Ciskei

Republiek Ciskei

tale en volkere / Mfengu/Fingo

Ciskei

Die wapen van Ciskei, deur die Staatsheraldikus in Pretoria geregistreer en 8 September 1972 in die Staatskoerant van Suid-Afrika gepubliseer, mag so geblasoeneer word:

Wapen: Op ’n Nguni-skild skuins gevierendeel van goud en van rooi, bo ’n oskop wat na vore kyk en onder ’n melkhoutboom op ’n eiland, groen. Agter die skild ’n spies en ’n knopkierie van swart, skuins gekruis.

Helmteken: Vier ivoorringe langs mekaar, waarop ’n blou kraanvoël met in sy bek ’n takkie met nege blare, in hulle natuurlike kleure.

Skildhouers: Twee klimmende aansiende luiperds in hulle naturlike kleure.

Leuse: Siyakunqandwa ziinkwenkwezi.

Wapen verduidelik:
Die skild is ’n tipiese Nguni-skild, die vorm wat ook gevind word in die wapens van Gauteng, KwaZulu, KwaZulu-Natal, Gazankulu, Botswana, Tanzania en Kenia. Die Xhosa – die suidelikste van die Nguni-volkere – het in langer as ’n eeu nie skilde in oorlog gevoer nie, maar het vroeër groot beeshuid-skilde gebruik wat ongeveer so hoog gestaan het as ’n man. Die enigste skilde wat steeds onder hulle in gebruik is, is stokgeveg-skilde, wat volgens dieselfde patroon gemaak word, maar slegs ongeveer 300 mm lank is. Stokgevegte is die tradisionele oefening van jong mans in die platteland.

Die oskop wys nie net op veeteelt as ’n belangrike ekonomiese aktiwiteit onder die plattelandse Xhosa nie, maar onderstreep die beduidenis van vee in hulle tradisionele kultuur. Dit simboliseer ook rykdom. Beeste is veral belangrik in tradisionele seremonies. Dit word ook van die oskop gesê dat dit die ontwikkeling van die samelewing simboliseer.

Die oskop is ook ’n spesifieke verwysing na die Xhosa-profeet Ntsikana (oorlede 1820), wat ’n ingeburgerde vorm van die Christelike Geloof in die eerste twee dekades van die 19de eeu gepreek het. Onder sy vee was ’n lieflings-os. Ntsikana het verskeie profesieë gemaak, onder andere die aankoms van die Britse setlaars, hul godsdiens en hul geld. Hy is in 1820 oorlede, voordat die setlaars gekom het.

Die Britse nedersettingskema van 1820 (wat setlaars in die Albany-distrik, wes van die Visrivier, geplaas het) het geweldige veranderinge in die lewens van die Xhosa gebring. Die Christelike Geloof – wat danksy die invloed van Ntsikana vir die Xhosa aanvaarbaar was – sou die ander veranderinge, soos die invoer van ’n kontant-ekonomie, meer draagbaar maak.

Die melkhoutboom, wat ook umqwashu genoem word, is van spesiale belang vir die amaMfengu-volk. Hierdie soort boom – die wit melkhout (Sideroxylon inerme) – groei in die distrik Peddie, en dit was daar dat die Mfengu 14 Mei 1836 onder ’n spesifieke umqwashu onder die invloed van die Metodiste sendeling eerw John Ayliff byeengekom het en ’n gelofte aangegaan het om aan God trou te wees, om hul kinders op te voed en om aan die regering trou te wees. Jaarliks het die Mfengu onder die umqwashu vergader om hierdie gelofte te hernieu.

Die boom simboliseer glo die gesag waarsonder die volk nie ’n voorspoedige toekoms kan skep nie. Ten spyte van ’n berig dat hierdie spesifieke boom afgekap is, laat weet Tony Dold van die Selmar Schonland-herbarium te Rhodes University vir my dat dit steeds floreer. Hierdie foto demonstreer dit.

My vroeëre informant het gespekuleer dat die “vernietiging” van die boom moontlik die werk was van Xhosa-aktiviste wat die verskille tussen die volkere van Ciskei wou minimeer.

Die wapens agter die skild stel kapteinlike gesag voor. Die spies – wat gewoonlik verkeerdelik as ’n assegai geblasoeneer word – is ’n wapen met ’n metaallem wat deur tradisionele smede gemaak word. Hierdie smede kom uit ’n oeroue tradisie wat die uitgrawe van metaalertse en die bewerking daarvan behels. Die assegai is ’n kort steekspies wat deur Shaka in die Zulu-koninkryk ingevoer is; die volkere van Ciskei het die tradisie van ’n lang werpspies behou. Die knopkierie word orals in Suider-Afrika gevind – onder Bantu-sprekende volkere sowel as onder die Khoikhoi – as beide wapen en simbool van gesag.

Die ivoorringe (in die helmteken) word tradisioneel deur kapteins op die bo-arm gedra; daar is vier, een vir elk van die stam-elemente in die Ciskeise bevolking: amaXhosa, amaMfengu, abaThembu en Basotho. Die ringe word beskryf as inmekaar gevleg, maar hulle lê in werklikheid langs mekaar.

Die blou kraanvoël (Anthropoides paradisea, ook Stanley-kraanvoël genoem) is ’n voël wat vir die amaXhosa “heilig” is; hulle noem dit indwe. Wanneer ’n man hom deur moedige dade onderskei het, of deur enige vorm van lofwaardige optrede, is hy dikwels deur sy kaptein erken deurdat hy gepresenteer is met die vere van hierdie voël. Nà ’n veldslag sou die kaptein ’n seremonie reël wat ukundzabela genoem is – ’n geleentheid vir helde waartydens vere gepresenteer sou word. Manne wat so vereer is – hulle het die vere gedra sodat dit uit die hare uitgesteek het – het as manne van ugaba (onraad) bekend gestaan . . . die implikasie was dat indien enige onraad ontstaan het, hierdie mans vrede en orde sou herstel.

Ironies genoeg lê die dorp Indwe naby die noord-oostelike grens van Glen Grey (later as Cacadu hernoem), wat tot Desember 1975 deel gevorm het van Ciskei. Miskien selfs meer ironies is dat die blou kraanvoël die nasionale voël is van Suid-Afrika. Tog het Suid-Afrika onder die apartheidsregering nie net hierdie wapen met die bloukraan-helmteken geregistreer nie, maar ook daarby ’n Ciskeise vlag wat ’n blou kraanvoël ingesluit het.

Die kraanvoël hou in sy bek ’n takkie met nege blare, wat die nege streeksowerhede voorstaan waaruit Ciskei tot aan die einde van 1975 bestaan het – Hewu, Keiskammahoek, Middeldrif, Victoria-Oos, Mdantsane, Peddie en Zwelitsha. Die soort boom waar die takkie vandaan kom, word nie genoem nie.

Die luiperds (Leo pardus) staan ook kapteinlike of koninklike gesag voor: dit is tradisioneel in Suider-Afrika dat slegs konings en kapteins luiperds mag jag, en slegs konings/kapteins of dié wat spesiale erkenning toekom, luiperdvel mag dra. Die hele luiperdhuid word spesiaal vir kapteins en konings gereserveer: wanneer ’n kaptein ingehuldig word, word ’n luiperdvel oor sy skouers gedrapeer.

Die voorsitter van Ciskei se Nasionale Vergadering het ’n luiperdvel as deel van sy seremoniële toga gedra.

Die luiperds is aansiende – hulle bekyk die kyker. Hulle kan gesien word as die bewaarders van die nasie. Bophuthatswana het ook ’n paar aansiende luiperds vir skildhouers gehad, terwyl die skildhouers van Transkei se wapen luiperds was wat slegs klimmend was, nie aansiende nie.

Die leuse, Siyakunqandwa ziinkwenkwezi, vertaal as: “Ons sal deur die sterre gekeer word,” of soos dit in Engels gestel word: “The sky’s the limit.”

Volkere, taal en geskiedenis:
Die naam Ciskei dui daarop dat dit die tuiste is van mense wat “duskant” – die Kaapse kant – van die Keirivier woon. Die republiek het altyd die naam as Ciskei gespel, alhoewel dit streng gesproke in Xhosa as Siskayi geskryf moes wees. Dit was deels omdat die naam Kei nie Xhosa is nie – dit is Khoisan; die Xhosa noem die rivier Nciba.

Die naam amaXhosa behoort, streng gesproke, aan die nasie wat hulself beskou as afstammelinge van ene Xhosa: die amaGcaleka van Transkei, en die amaRharhabe van Ciskei (wat verder vertak is in ’n verskeidenheid kleinere groepe). Die naam Xhosa (isiXhosa) word egter ook gegee aan die geskrewe Suid-Nguni-taal, wat die eerste maal neergeskryf is deur sendelinge onder die amaRharhabe. (Dit was die heel eerste van Suider-Afrika se Bantu-tale om geskrewe vorm te kry.) Wanneer die term taalkundig gebruik word, behels dit dan nie net die amaXhosa nie, maar ook die amaMfengu, die abeThembu en die res van die Nguni-sprekende volkere van Transkei.

Die amaXhosa wat wes van die Kei woon, het hulle lande eers bewoon in ’n tydstip vergelykbaar met Jan van Riebeeck se stigting van die Nederlandse nedersetting aan die Kaap. In hierdie sin is hulle die abeNguni wat die mees onlangs in hulle tuisgebied aangekom het.

Maar hulle was ook die eerste wat deur die Britte verower is, en het dus ’n langer geskiedenis as enige ander Bantu-sprekende gemeenskap onder koloniale regering, en langer ervaring van Christelike sendinge en van Westerse opvoeding. Dit is selfs meer die geval by die amaMfengu (kyk onder).

Ciskei is die tuiste van etlike bekende opvoedkundige inrigtings, waaronder die Fort Hare University uitstaan. In sekere stadiums was Fort Hare (in 1916 gestig as die South African Native College) die enigste tersiêre inrigting in die hele Suider-Afrika was wat vir swart studente oop was. Dit het studente gehad van sover weg as Noord-Rhodesië (Zambia) en Uganda gekom het.

Dit is hieroor dat Xhosa-sprekendes onder die leiers was van weerstand teen apartheid, en teen die tuislandstate self. In beide Ciskei en Transkei is konserwatiewe, kapteinlike administrasies geïnstalleer omdat die meer radikale elemente in die bevolking geweier het om hul stemreg uit te oefen en verkies het om die nasionale weerstandsbewegings te steun.

Gedurende die dekade na 1820 is ’n nuwe element tot die bevolking toegevoeg toe klans abeNguni wat van die Zulu-koninkryk gevlug het, in die Transkeise distrik van die amaGcaleka aangekom het. (Hierdie het groepe ingesluit van beide noord en suid van die Thukelarivier [Tugelarivier]). Toe hulle deur die kapteins van die amaGcaleka gevra is wie is hulle, antwoord hulle: “Siyamfenguza” (“Ons is honger mense.”)

As gevolg van hierdie antwoord is hulle dan amaMfengu (“honger mense”) genoem. Die koloniste het hulle later Fingo genoem. Hulle is toegelaat om hulle in die boonste valleie van die Gcuwarivier te vestig, maar alhoewel hulle toegelaat is om gewasse te kweek, is hulle verbied om beeste aan te hou, wat vir hulle vernederend was.

Sendings het vroeg onder hulle wortel gevat, en die Butterworth-sending is in 1827 gestig.

Hulle was die eerste swart Suid-Afrikaners wat ploeë gebruik het. Ander “eerstes” het gevolg: in 1865 was hulle die eerste wat koring gesaai het, en omtrent 1870 die eerste swart skaapboere.

Weens hulle onderdrukking onder die Gcaleka, het die Mfengu in tyd van oorlog hulle met die Britte geallieer en is met grond beloon – hulle is bevestig in hulle besit van Fingoland (die hoër-liggende Gcuwa-valleie), en het ook stukke grond in die Ciskeise gebiede ontvang. Hulle is in 1836 in die distrik Peddie gevestig, en het later ander dele van wat die Republiek Ciskei geword het, bewoon, asook grond verder wes, so ver as die nou kusstrook van die Tsitsikamma.

Die stamlande wes van die Kei is die eerste maal onder Britse gesag byeengebring as deel van die kortstondige Provinsie van Koningin Adelaide (1835), en daarna in die kolonie British Kaffraria (met King William’s Town as hoofstad), wat tussen 1847 en ’66 tussen die Vis- en Keirivier bestaan het voordat dit tot die Kaapkolonie geannekseer is.

Teen die tyd van Unie (1910) het die Ciskeise Gebiede uit stamtrustlande (in Kaapprovinsie) tussen die Visrivier en net oos van die Keiskammarivier bestaan, noordwaarts tot in Keiskammahoek; die suidwestelike deel van die distrik Queenstown; die distrik Glen Grey (noord-oos van Queenstown); en die distrik Herschel, tussen die Oranjerivier en die Drakensberge.

Noue verbintenisse tussen die abaThembu van Glen Grey (wat deur die Britte die Emigrant Tembu genoem is) en die res van die Thembu-volk (in Transkei) het egter daartoe gelei dat beide Glen Grey en Herschel, kort voor Transkei se “onafhanklikheid” van 1976, aan Transkei oorgedra is.

Groot getalle stamlede uit beide Herschel en Glen Grey (Xhosa, Thembu en Sotho) het geweier om in Transkei ingelyf te word, en is na die distrik Queenstown oorgeplaas, waar die stamtrustlande die nuwe distrik Hewu geword het. Om Ciskei te konsolideer, is nie net Hewu vergroot nie, maar die distrik Stockenström (tussen Hewu en Keiskammahoek, wat na sir Andries Stockenström vernoem is) is van die blanke en kleurlingfamilies wat reeds sowat 130 jaar daar gewoon het, onteien. Plase in die distrik Peddie wat in blanke besit was, is ook onteien. Fingo en Xhosa is ook uit hul tuistes wes van die Visrivier uitgekeer en gedwing om in Ciskei te bly. Dit was veral swaar vir vir die klein getalle Xhosa van die Weskus, sowel as ’n gemeenskap uit Riemvasmaak, benoorde die Oranjerivier, wat Afrikaanssprekend was en dit moeilik gevind het om in ’n Xhosa-sprekende samelewing aan te pas.

Stedelike woongebiede is tydens die 1960s buite Oos-Londen (Mdantsane) en King William’s Town (Zwelitsha) opgerig. Die bevolking van Mdantsane was so groot dat dit meer was as Oos-Londen, en die Oos-Londense koerant die Daily Dispatch het daarna verwys as “the largest city on the Border”. Altwee hierdie ontwikkelings is in Ciskei ingesluit. (Die Grens-gebied lê tussen Ciskei en die Keirivier, vanaf Oos-Londen in die suide tot Queenstown in die noorde. Dit is so genoem toe dit die oosgrens was van Kaapkolonie, en die naam is tot vandag toe in gebruik.)

Die “onafhanklike” staat:
Die Ciskeise Gebiedsowerheid het in 1982 besluit om Suid-Afrika se aanbod van “onafhankliheid” te aanvaar, en het 4 Desember daardie jaar die Republiek Ciskei geword.

Hierdie onafhanklike status is egter deur geen ander land buite Suid-Afrika erken nie, en die beste internasionale erkenning wat Ciskei of enige van die ander drie “onafhanklike” tuislandstate ontvang het, was die lys van hulle posseëls in die katalogus van Stanley Gibbons.

Die “onafhanklike” Ciskei het in groot mate afgehang van subsidies van Suid-Afrika, en die vier “onafhanklike” state het die Suid-Afrikaanse Regering se angs uitgebuit deur om hulle begrotings te vergroot met salarisse vir oorbodige personeel en buitensporige uitgawes ten bate van die leierskap en hul spandabele projekte, soos die “internasionale” lughawe Bulembu naby King William’s Town.

Ciskei het ook ’n swierige en uitgestrekte hoofstad gebou te Bisho, onmiddellik noord van King William’s Town.

Ciskei het gebaat uit Suid-Afrika se “grensnywerhedebeleid” waaronder fabrieke óf op Suid-Afrikaanse bodem opgerig is, naby die tuislandstaat, óf binne die staat. Groot getalle Ciskeiers is in hierdie nywerhede opgeneem, wat hoofsaaklik in die Grens-korridor gesitueer is – in en naby Oos-Londen (Berlin ingesluit), King William’s Town, Stutterheim en Queenstown – sowel as binne Ciskei te Dimbaza. Na-apartheidse ekonomiese beleid (insluitende die onttrekking van subsidies aan die nywerheidsondernemings) het veroorsaak dat baie van hierdie fabrieke gesluit het.

Soos die ander drie “onafhanklike” tuislandstate, het Ciskei 27 April 1994 opgehou om te bestaan. Dit het nou deel geword van die Provinsie Oos-Kaap, waarvan Bisho hoofstad geword het.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bron: The Republic of Ciskei: A Nation in Transition (1981: Benso, Pretoria).

  • Skandering deur Howard Lancaster.


    Terug na Bantustans-indeks

    Terug na Armoria patriæ-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle