Armoria
http://uk.oocities.com/binneskild

Temas – plaasdiere

Om meer oor die geïllustreerde wapens te leer, kliek op die beelde.

PLAASDIERE dek ’n wye bestek van spesies, veral deesdae waar heelwat boere oorgegaan het na die aanhou van wild (kyk hier en hier hiervoor). Maar terwyl wild dikwels in heraldiese wapens voorkom, kan dieselfde nie gesê word van aangeteelde soorte. Huidiglik het Armoria slegs ’n handjievol. Eerstens is daar die ramme wat Beaufort-Wes skildhouers het: regs ’n merino, en links ’n Angorabok – albei belangrik in die ekonomie van die Karoo. Die merino produseer fyn wol sowel as vleis, en die Angora vir sy sybokhaar. ’n Derde plaasdier verskyn in die dorp se helmteken, naamlik ’n volstruis. Maar aangesien dit ’n voël is, sal jy dit hier vind.

merinoram-skildhouer in die wapen van Beaufort-WesAngorabok-skildhouer in die wapen van Beaufort-Wes

Skape verskyn in die seël van die Oranje Vrij Staat, simbolies van die droëre weiding van die westelike dele, vergeleke met die natter Hoëveld van die noordelike Vrystaat.

skape in die seël van die Oranje Vrij Staat

Meer van ’n godsdienstige simbool as streng gesproke ’n plaasdier is die lam (blykbaar ook ’n merino) in die wapen van die (Anglikaanse) Bisdom Port Elizabeth, wat vir Christus as die Lam van God voorstel. ’n Verwante simboliek word in die vier skape gevind – wat ’n heelwat groter trop voorstel – in die wapen van biskop Michael Coleman van Port Elizabeth, wat herinner aan Christus se opdrag aan Petrus: “Laat My lammers wei.” Daarby bevat die wapen ook ’n herderstaf, ook bekend as ’n biskopstaf.

lam in die wapen van die Bisdom Port Elizabethskape in die wapen van biskop Michael Coleman van Port Elizabeth

Die enigste ander plaasdiersoort wat tans in Armoria is, is Suid-Afrikaanse beessoorte. Die inheemse beeste van ons land stam almal van die kuddes van die Khoikhoi, wat miskien so lank gelede as 2 000 jaar beeste en veeteelt by ’n Nilotiese volk naby die Zambezirivier verkry het. Dié het hulle suidwaarts gebring, en ook het hulle beeste en veeteelt aan die Bantu-sprekende volkere voorsien wat later die land binnegedring het. Die bekendste onder die beessoorte wat deur sulke volke aangehou word, is die Nguni-ras. Die bekendste indiwiduele Nguni-bees wat in ’n wapen voorkom, is dié wat in die wapen van Ciskei ingesluit is as simbool van die Christene onder die amaRharhabe (westelike amaXhosa), ter nagedagtenis aan die profeet Ntsikana, wie ’n lieflingsos aangehou het. Ander os- of bulkoppe word gevind in die wapens van Bophuthatswana en Transkei.

oskop in die wapen van Ciskeioskop in die wapen van Transkeioskop in die wapen van Bophuthatswana

Tans het ek nie ’n voorbeeld van ’n egte Khoikhoi-bees nie, maar die Nederlands-sprekende Boere het in die vroeë dae van die Kaapse nedersetting reeds begin met kruisteling tussen hierdie beessoort en ingevoerde beeste. Die uitkoms hiervan was die stewige Afrikaner-ras wat die trekosse van die Trekboere en die Voortrekkers voorsien het. Thabazimbi het die kop en skouers van ’n Afrikanerbul in sy wapen.

Afrikanerbul in die wapen van Thabazimbi

Daar is ’n perd – en dit was wel ’n plaasdier – in die wapen van Woodstock. Sy naam was Vonk, en hy het aan Wolraad Woltemade behoort. Nog ’n perd, hierdie keer afgebeeld as deel van ’n standbeeld, is in die helmteken van Rhodes University, en dit stel voor ’n gunsteling-standbeeld van Cecil John Rhodes, met die titel Fisieke Energie.

swemmende perd in die wapen van Woodstockperderuiter-standbeeld Fisieke Energie in die helmteken van Rhodes University


Counter

Terug na bo

For English, click here


Terug na temas-indeks

Terug na Armoria-indeksx


Opmerkings, navrae: Mike Oettle